Van die skrywer

Toe ek genader is om die Stroomop-draaiboek in ʼn boek te verander, was ek eers maar skepties. Waarom met ʼn ander se karakters en storie werk as mens eerder jou eie kan skep?
Die vraag is na presies een ontmoeting met Ivan en Donnalee só oortuigend beantwoord dat ek nooit weer getwyfel het of hierdie die regte projek vir my is nie. Want die oomblik toe die karakters aan my beskryf is, het hulle met my begin práát.

Soos Nixie moes ek al, stert tussen die bene, my rug draai op ʼn glinsterende regsloopbaan. Soos Adrie het ek vir jare met my gewig gesukkel, en weet ek presies hoe mens – kniediep in doeke en bottels en karretjies en lieflike, skreeuende, laggende kindertjies – kan voel of jy op droë grond verdrink. Soos Vivian het ek toegelaat dat my vrese my vir jare lank verhoed om voluit te lewe, soos Diona het ek al nagte deur getwyfel of ek ʼn goeie ma is, en soos Lana voel dit gereeld vir my asof selfs my beste nie goed genoeg is nie.

Hoe kon ek nié dieper in hierdie vroue se koppe wou inkruip nie?

Dit was op die ou einde groot pret om ʼn paar kilometers in elkeen van hierdie karakters se skoene te stap – so stoksielalleen agter my rekenaar het ek hardop gelag, gefrons, gegiggel, en (sommer ʼn hele paar keer) lekker gehuil. Ek dink regtig dat elke Suid-Afrikaanse vrou, net soos ek, iets in hierdie storie sal vind wat tot haar eie lewe spreek. Al wat ek nou hoop is dat dit vir mense net so lekker sal wees om die boek te lees as wat dit vir my was om dit te skryf!

Adeline Radloff