Die storie agter die storie

Wat is volgende? Wat druk so erg op die hart dat die pen dit moet skryf? Jy wroeg met al die vrae, soek diep binne jouself, probeer die psige van die mens op straat vasvang. Speel met verskeie konsepte net om weer terug te kom na daai idee wat jou wakker hou in die aande, wat jou in die oggende uit die bed kry. 

Wat ons eintlik probeer sê, is jy kies nie jou volgende storie nie, die storie kies jou.

Dit was Stroomop vir ons. 

Drie jaar gelede is die idee in ons harte gebore om ’n film te maak waarin daar nie ’n man is wat die vrou red nie, waar ’n vrou se identiteit nie gegiet is uit onrealistiese verwagtinge of wêreldse persepsies nie, waar die vroue die heldinne is ... waar die vroue hulleself red!

’n Idee wat so baie uitdagings gehad het, logisties, storie, finansieel, tyd, natuurelemente, ensovoorts. Maar ons kon net nie ons rûe op Stroomop draai nie. Vyf unieke vroue wat lewe op die skerm verdien, hulle seer en stories wat gedeel móés word.

Die tyd kon nie beter wees nie, want min het ons geweet – of kon ons toe voorspel, dat in dieselfde jaar wat ons ons film sou maak en vrystel, vroue regoor die wêreld “stroomop” sou swem, dat vrouebewegings hulle stem sou laat hoor, dat vroue sou opstaan vir hulself, vir gelyke regte, teen onregverdigheid en ongeregtigheid, vir dit waarin hulle glo!

Op Vrouedag, 9 Augustus 2018, het ons die voorreg om  ’n (half VOL) glasie te klink op die vrystelling van ons nuwe, baie uitdagende, maar baie opwindende avontuur wat in die Noord-Kaap op die Oranjerivier afspeel 'n deel van ons land wat so ongenaakbaar en rou is, maar so bitterlik mooi dat dit op jou bors druk en dit vir jou moeilik maak om asem te kan haal. Dis letterlik op sommige dele in die middel van alles en nêrens gelyktydig, geen elektrisiteit, geen sein, net ons filmspan en al die elemente van die natuur.

 Stroomop is ’n film oor selfontdekking, aanvaarding, vergifnis en genesing. As ’n span het ons daagliks saam met ons karakters op hierdie lewensveranderende oorlewingsreis gegaan en saam dié fenomenale vroue al die wonderlike en moeilike elemente van vrouwees ontdek. Saam het ons riviere geswem, berge uitgeklim, die rofste rapids geroei en ons gaan nie jok nie, dit was partymaal vreesaanjaend, maar met elke Stroomop-swemslag het ons sterker en brawer geword. 

Stroomop volg die lewe van vyf baie unieke, baie uiteenlopende vroue wat almal iewers op hierdie rivier wat ons die lewe noem besig is om te probeer kop bo water hou, besig is om te verdrink onder die druk van die definisie van perfek wees ... Perfekte ma, perfekte vrou, perfekte loopbaan, perfekte gewig, perfekte hare ... (Ja, hierdie lys kan baie lank raak!) Vroue wat rondgemaal word in van die grootste golwe wat die lewe somtyds oor ons laat rol, of wat net doodeenvoudig meegesleur word en hulself verloor in 'n stroom van wêreldse verwagtinge. 

So ons lig vandag ons (half VOL) glas en sê nee, hou op om op al die verkeerde plekke te soek alles wat ons nodig het om alles te oorkom en alles te wees wat ons gemaak is om te wees, is reeds daar, binne-in ons, dit wag net om ontdek te word! Dan eers gaan jy met elke swemslag wat jy gee sterker word, gaan jy van die norm af weg swem en jou eie norm bepaal, gaan jy ontdek wat JOU mooi en uniek maak en wat jou werklik van binne af laat straal!

So CHEERS! Cheers op volkome, vreeslose, pretensielose, sonder-enige-oordeel unieke VROUE! Mag ons mekaar waardeer en opbou, mag ons hulle wees, mag ons hulle ken, mag ons hulle groot maak.

Die kosbaarste geskenk wat iemand ooit vir jou kan gee, is hulle tyd, en as iemand vir jou twee ure van hulle lewe gee om jou film te kom kyk, is dit ons verantwoordelikheid en grootste hoop en passie as storievertellers om vir hulle waarde vir hulle tyd te gee. Om ons gehoor saam op ’n ‘epic’ avontuur te neem en dan vir hulle ’n boodskap in hulle harte te gee om saam huis toe te neem. Dié keer is die reis nog groter en wilder as ooit, so trek jou life jacket aan en waag dit saam met ons karakters op die Oranjerivier, ons meen, wat is die ergste wat kan gebeur?

Al ons liefde Ivan & Donnalee