Blog

Die lang pad Oranje Rivier toe begin met baie karre en besige strate, dis eers honderde kilometers verder waar die besig na stof, saligheid en stilte verander. Wanneer die teerpad grondpad word verander mens se gemoed so saam met al die tasbare omliggende faktore. Die geboue is verruil vir berge, die stopstrate en robotte vir bome en bosse en die bedrywighede vir oop, blou lug met geen einde. Mens verkyk jou aan ’n wêreld wat in dieselfde asem verfrissend mooi, maar ook kliphard voor jou uitgestrek lê.

Na talle rolle van diep en ernstig tot grapperige en geliefd – Wimpie, Pieter, Basson, Hugo en meer – staan Ivan Botha nou eindelik gereed om sy eerste rol as regisseur van ’n film aan te pak. Sy debuut sal gemaak word in die wilde waterstrome van die Oranje Rivier met die nuwe avoontuurfilm, Stroomop.

 

Met die laaste stroompie van Vrouemaand vloei ons na die vors, die denke en die dinamika agter die vrouetemas en gedagtes wat die nuwe avontuurfilm Stroomop dryf. Vrouemaand word in Suid-Afrika as huldeblyk herdenk vir die duisende vroue wat op 9 Augustus 1956 ’n massa-stap na die Uniegebou in Pretoria afgelê het. Vandag word hierdie maand geken deur die viering van volheid vrouwees, positiewe denke, opstaan, saamstaan en ondersteuning.

Die storie van Stroomop broei al vir twee jaar in ons harte en gedagtes en saam met dit die groot, wilde droom om die storie op die Oranje Rivier te gaan vasvang. Later het die gedagte om dit liewer op die naaste, beste rivier te gaan verfilm aantreklik begin lyk... Aantreklik vir die begroting en baie aantreklik ten opsigte van die logistieke! Maar soos dinge moet uitwerk het ons onlangs die besluit geneem om ons oorspronklike hartsbegeerte en droom te volg en in Onseepkans, teen die Oranje Rivier te gaan verfilm.